“Krause se oorlogsmemoires is ‘n fees”
Rykie van Reenen
(Die Burger 14 Mei 1997)
As hulle net eers die Ou President land-uit kon kry, ontslae kon raak van die lakse, lafhartige, selfs korrupte spul gunstelinge wat hy as bevelvoerders aangestel het, die lang linie burgers op die front kon kry wat nou ‘n voortvlugtige President moet beveilig!
Ludwig Krause was ‘n Joubert-man, skerp krities van Kruger se bewind met sy “money-grabbing traitorous hangers-on”, en oortuig die oorlog kon vermy gewees het. Maar toe dit uitbreek, is dit hy en ‘n makker wat ‘n stormnag te perd trotseer om die galmend-snorkende laer van genl. Groot Freek Grobler in Noord-Transvaal te gaan wakker skree: Opzaal, dis oorlogl
En wie belewe met groter bewonheid (“my soul was stirred to its innermost depths.. .”) daardie Dingaansdag by Paardekraal toe man, vrou en kind ná ds. Abraham Kriel se groot rede en gebed een vir een in plegtige stilte hul klip tot die hoop op die heuwelkruin voeg?
Krause se oorlogsmemoires – The war memoirs of Commandant Ludwig Krause 1899-1900 – is besonders alleen al omdat dit die oorlog uit drie hoeke beskryf: in die vyftien kort maande voor hy gevang is, was hy eers gewone burger, toe “siviele administrateur”, toe kommandant te velde en ‘n ruk president van die krygsraad. Daarby skryf hy sy memoires, anders as Deneys Reitz sy On Commando, met die kruitdamp nog in sy hare – op parool in Johannesburg voor verbanning na Indië.
‘n Seun van die legendariese Ou Dokter Krause van Bloemfontein, was “Lodie” Krause g’n deursnee-burger nie. Soos Smuts en Hertzog, ‘n regsgeleerde, had hy grade van Stellenbosch, Kaapstad, Londen en Cambridge agter sy naam. As tien, twaalf ander “educated Afrikaners” ook hulle oorlogservaringe teboek sou stel, reken hy, “an accurate and interesting History of the War from the Boer side would be obtained.” Sulkes sou vermoedelik ‘n intellektuele greep hê ook op die groter gang van die oorlog.
Self meedoënloos- in sy ontleding van taktiese en veral dissiplinêre tekortkominge aan Boerekant, streep hy met hoë vlugte retoriek die huigelagtige vyand, maar het tog ‘n hart vir die individuele Tommie.
Geluk by die ongeluk dat sy memoires nou eers verskyn, anders was dit stellig gesuiwer, of as potensieel lasterlik, of uit pas met heersende nasionale mites. Vir die Van Riebeeck Vereniging is die publikasie van tydgenootlike Boere-memoires in Engels geskryf – en dit net betyds vir die eeufees van die oorlog! – ‘n lekker scoop.
In watter taal ook al, en pace sy politiek, Krause se memoires is ‘n fees. Benewens kryghistoriese belang, verhoog deur militêre historikus Gillings se aantekeninge, het die vertelling ‘n onstuitbare momentum en die gevegsrapportage die onmidellikheid van die bal-vir-bal krieketkommentaar (…”Hoerrah! Hoerrah! they drop, they drop!”). Daarby, onder méér, ‘n ondeunde humorsin, ‘n digterlike aanvoeling vir natuurskoon.
Krause bring ‘n skaarse sekulêre aksent in Boereoorlogsvertellings. Met alle agting vir egte godsvrug, sê hy smalend van korrupte bevelvoerders: “…and these were the men … who looked to the Most High for help, and who called upon the Lord morning, noon and night for justice”.
Ewe ontluisterend is sy verwyt: “Women of South Africa! Is it not true that many of you” (natuurlik nie syne nie!) “have alas! Taught your husbands, brothers and sweethearts to behave like traitors and cowards, to remain away from the front on all kinds of excuses and false certificates”.
Deur sy verkyker sien Lodie ‘n keer ‘n Engelse soldaat storm met ‘n blaffende hond baldadig al om sy voete (hondsaam oorlog toe?!). Iets van daardie jonghond-uitbundigheid is aanvanklik onder die burgers vaardig. As die vyand se kanonne nie heeltemal op die Boereloopgrawe gekorrel kan kry nie, tart waaghalse hulle deur agter die skanse uit te dop en met hul hoede te wuif: waa’s hy? waa’s hy? dáá’s hy!
Geleidelik vat die frustrasie pos met die manier waarop die oorlog in dié stadium bedryf word, en Krause en ander van die “educated among us” laat vir hulle plaasvervangers kom. (Dit kon blykbaar!). Terug by sy prokureurspraktyk op Pietersburg, kry Krause kans om agter die front ‘n werklike beduidende bydrae te lewer danksy sy nugter regsadvies, sy insig in die strategiese opset in die nog onbesette Noord Transvaal, sy begrip vir behoeftes aan die front. En sy vindingrykheid! As hy die broodnodige spoorberbinding herstel kry maar daar is vir die paar gelapte loko’s g’n steenkool of enginolie nie, laat saag hy eenvoudig stawels groen boekenhout en laat varkslag en vet uitbraai vir smeergoed!
Ná herhaalde vertoë vervang genl. Christiaan Beyers die bedenklike Barend Vorster in Noord-Transvaal (hoe hy opgesweepte Vorster-manne by ‘n vyandiggesinde ontmoeting op Warmbad met ‘n gebed droogsit, is een van die mooi stories van die oorlog!). Krause sluit weer aan en word kommandant, totdat hy vroeg op ‘n mistige oggend in die Magaliesberg gevang word – in volkleur vertel! – ná ‘n oponthoud om ‘n groep beangste vroue en kinders voor die vyand uit na veiligheid te begelei.
Wat ‘n vonds vir wyle Jerold Taitz internasionaal gesaghebbende skrywer oor mediese regspleging met ‘n hartstogtelike bybelangstelling in SA geskiedenis, toe hy op Krause se ongepubliseerde momoires afkom op spoor van hierdie plattelandse prokureur wat vyf dele Voetiusvertalings uit die Latyn gepubliseer het!