Die Vereniging het in Gauteng ʼn fees in twee dele gevier, op 10 en 11 Oktober 2018, onder beskerming van die Geskiedenisdepartemente van die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Johannesburg. Ons eregas en hoofspreker by albei byeenkomste was professor Archie Dick, hoof van die Departement van Inligtingskunde aan die Universiteit van Pretoria en ʼn internasionale deskundige op die geskiedenis van lees en van boeke. Hy het kommentaar gelewer op die geskiedenis van die Vereniging en nuttige wenke aan die hand gedoen oor hoe om steeds relevant te bly in ons tweede eeu. Ons voorsitter, professor Howard Phillips, het ook by albei geleenthede gepraat.
ʼn Hoogtepunt by die twee byeenkomste was die voorlesings van geselekteerde stukke uit ons volumes, gelees deur nagraadse studente van albei universiteite, voorgedra met baie geesdrif en passie. Nog ʼn hoogtepunt was die vasvra, wat in Kaapstad ook so ʼn sukses was – hier het lede en gaste hul kennis oortuigend getoon, en dit sonder die hulp van leidrade uit die tentoonstelling by die Nasionale Biblioteek! Die twee geleenthede, wat deur 80 mense bygewoon is, is afgesluit met ʼn gesellige samesyn met drankies en happies. Die Vereniging is baie dank verskuldig aan die Geskiedenisdepartemente van beide universiteit vir hul gasvryheid.