ALGEMENE JAARVERGADERING EN BEKENDSTELLING VAN 2019 VOLUME
Ons algemene jaarvergadering vind plaas op Woensdag 27 November 2019 om 17h30 in Ravenswood House, Hatfieldstraat 110, Tuine, Kaapstad. Sien aanwysings en kaart hieronder. Ons is weereens dank verskuldig aan die eienaar en HiPSA-lid, Patrick Esnouf, vir die gebruik van die elegante woning. By hierdie vergadering sal ʼn nuwe Raad gekies word vir die tydperk 2019-2022. Nominasies vir die Raad deur ʼn voorsteller en ʼn sekondant (saam met die aanvaarding deur die genomineerde persoon) moet die kantoor bereik voor 12h00 op 22 November 2019. Vir doeleindes van spyseniering, laat weet asb voor of op 20 November as u die vergadering sal bywoon.
Die jaarvergadering sal gevolg word deur die bekendstelling van ons 2019 volume, Indoda Ebisithanda (‘The Man Who Loved Us’): The Reverend James Laing Among the amaXhosa, 1831-1836, geredigeer deur dr Sandy Shell. U kopie sal ongeveer ʼn week voor die jaarvergadering aan u gepos word, tensy u vroeër in die jaar aangedui het dat u die kopie by ons kantoor sal afhaal, of dit deur ʼn koerier of met PostNet gestuur wil hê – in dié geval sal u gekontak word oor die reëlings.
VOLGENDE HERDRUKKE
Om saam te val met die 200ste herdenking van die aankoms van die Britse Setlaars in 1820, herdruk ons vroeg in 2020 albei volumes van die kroniek van Jeremiah Goldswain waarin hy vertel van sy ervarings in die Albanie-distrik in die Ooskaap van 1819 tot 1858. Goldswain was ʼn saer uit Buckinghamshire en het in 1820 na die Ooskaap geëmigreer. Hy skryf foneties in sy middel-Engelse dialek – die eerste volume vertel van die setlaars se aanvanklike probleme op die oosgrens; die tweede volume handel oor die toenemende spanning tussen swart- en witmense in die streek, sy ervarings as ʼn handelaar en sy verhoudings met sy familielede, insluitend die mediese behandelinge wat hulle ontvang het. Die joernaal is besonder aantreklik as gevolg van sy naïewe openhartigheid. Vir meer inligting, gaan na https://hipsa.org.za/publication/the-chronicle-of-jeremiah-goldswain-albany-settler-of-1820-vol-one-2/ . Om ʼn kopie te bestel, gaan na https://hipsa.org.za/reprints/ of stuur ʼn e-pos aan office@hipsa.org.za of bel die kantoor by 021 423-8424.
TWEEDEHANDSE VOLUMES EN ONS NUWE WEBWERF
Ons het ʼn aantal tweedehandse volumes, in goeie toestand, te koop. Die lys is te vind by https://hipsa.org.za/second-hand-volumes/ of u kan die kantoor kontak by 021 423-8424. As u eersgenoemde doen, sal u kennis maak met ons mooi nuut-ontwerpte webwerf. Al is die Afrikaanse weergawe nog nie voltooi nie, verwelkom ons enige kommentaar of voorstelle oor hoe om die webwerf te verbeter sodat dit selfs nog aantrekliker kan wees.
VRV 100 FONDS
Ons Eeufeesfonds staan nou op R577 500, nog steeds onder ons oorspronklike doelwit van R600 000. As u verlede jaar die geleentheid gemis het om u naam te laat voeg by die lys van donateurs tot die Eeufeesfonds, dan is dit nog tot die einde van 2019 moontlik om dit te doen. Om ʼn eens-in-ʼn-eeu bydrae te maak, stuur asb ʼn e-pos aan office@hipsa.org.za of telefoneer 021 423-8424.
VAARWEL EN WELKOM
Ons betreur die heengaan van die volgende lede: Mnre S Absolom, N Martinson, Arne Schaefer, N Schaefer.
Terselfdertyd is ons verheug om die volgende nuwe lede te verwelkom wat die laaste drie maande by ons aangesluit het: Adv S Burger (Kaapstad), Mnr J Butler (Kaapstad), Dr C Fransch (Stellenbosch), Mnr D Guy (Swellendam), Mnr P Kalsbeek (Nederland), Adv R Kotze (Kaapstad), Mnr G Luxton (Swellendam), Me B Neethling (Kaapstad), Adv T D Potgieter (Kaapstad), Mnr S Sephton (Kaapstad), Mnr A Viljoen (Ceres), Prof T Waetjen (Johannesburg), Me N Warner (Kaapstad)
WERWING VAN NUWE LEDE
As u ons kan help om bostaande lys aan te vul deur voor die einde van die jaar ʼn nuwe lid te werf, sal dit ons help om ons doel te bereik om 101 nuwe lede te werf in ons 101ste bestaansjaar – ons is immers die vereniging met die heel beste (boek-)waarde vir geld. Alle nuwe lede wat so gewerf is, mag ʼn boek uit ons ouer volumes kies om saam met die 2019-volume te ontvang.
GRATIS DIGITALE KOPIE VAN PUBLIKASIE VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG MUSEUM
Die Oorlogsmuseum van die Boere-republieke in Bloemfontein bied goedgunstiglik vir alle bestaande lede van ons vereniging ʼn gratis digitale kopie aan van Kopje, Kraal & Laager, Volume 2, die joernaal wat deur die Museum gepubliseer word. Dit bevat onder andere die lewendige, vroeër ongepubliseerde dagboek van Elsa Leviseur, ʼn patriotiese jong Boerjoodse meisie in Bloemfontein, asook ʼn onlangs ontdekte dagboek van die beleg van Mafeking. As u verlang dat ons ʼn kopie aan u stuur, rig asb die versoek per e-pos aan office@hipsa.org.za.
OPENBARE LESINGS
As deel van ons strewe om ons jongste volumes bekend te laat word, het prof Chris van der Merwe, vertaler van ons 2017-volume, Seleksies uit die briewe van president M.T. Steyn, 1904-1910, in September by die Worcester Museum oor hierdie volume gepraat. Hy skryf dat, hoewel die gehoor relatief klein was, die byeenkoms groot belangstelling gewek het vir die Steyn-volume en vir die Vereniging. Die redakteurs van vanjaar en verlede jaar se volumes, Howard Phillips en Sandy Shell, is ook bereid om openbare lesings oor hulle volumes te gee (resp. In a Time of Plague: Memories of the Spanish Flu Epidemic of 1918 in South Africa en Indoda Ebisithanda (‘The Man Who Loved Us’): The Reverend James Laing among the amaXhosa, 1831-1836). As u weet van enige plaaslike vereniging of groep wat belangstel in ʼn lesing oor een van hierdie twee volumes, laat asb die kantoor weet, en ons sal die nodige reëlings tref.