Hendrik Swellengrebel Jr is op 26 November 1734 aan die Kaap gebore, die vyfde kind van Hendrik Swellengrebel sr en Helena Wilhelmina ten Damme. Swellengrebel sr was toe Sekretaris van die Politieke Raad, maar vanaf 1739 Goewerneur van die Kaap de Goede Hoop. Op elfjarige leeftyd het Hendrik jr sy ouers gegroet en met die retoervloot na Nederland vertrek.
Toe reeds het sy vader beplan om uiteindelik na Nederland terug te keer. Hy het vier seuns en drie dogters gehad – watter toekoms kon die Kaap vir hulle bied? Daarom het hy sy seuns na Nederland gestuur om daar verder te studeer. Na hulle aankoms het dominee J Schermer en sy vrou vir hulle gesorg in Utrecht. Hendrik jr het na die Latynse skool gegaan en daarna aan die Universiteit van Utrecht in die Regte gestudeer. Hy het sy studies in 1775 voltooi, toe nog nie 21 jaar oud nie, en homself daarna as ‘n prokureur gevestig. Hy het ook ‘n kanunnik in die kapittel van die katedraal geword.
Na die Kaap
In 1775 het Hendrik Swellengrebel aan boord van die VOC boot Alkemade gegaan met die doel om die land van sy geboorte te besoek. Dit was in daardie dae nie ‘n maklike onderneming nie. So ver ons weet, het hy nooit eksplisiet die redes vir sy besoek verstrek nie. Die begeerte om sy geboorteland weer te sien, sou sekerlik ‘n rol gespeel het. Dit is egter nie onmoontlik dat hy ook daaraan gedink het om hom aan die Kaap te vestig nie. Sy belangstelling in die moontlikhede – ook die finansiële moontlikhede – van boerdery in die Kaap, soos duidelik blyk uit sy joernale en latere briewe, dui in hierdie rigting.
Swellengrebel het besluit om in alle rigtings te reis terwyl hy aan die Kaap vertoef, sodat hy die toestand van die kolonie kon leer ken, die aard en impak van die VOC administrasie en die lewenswyse van die koloniste. Maar hy wou ook kennis maak met die inheemse Khoi, San en selfs die Xhosa – daarom wou hy die gebied van laasgenoemde besoek, wat hy ‘Kafferland’ genoem het. Hy het homself goed daarop voorberei; hy het kaarte van die Amsterdamse firma Van Keulen bestel en ‘n kis vol boeke gekoop vir voorbereidende studie terwyl hy op die Alkemade na Kaapstad reis.
Hendrik Swellengrebel was deel van ‘n golf van nuwe navorsingswetenskaplikes. Hy wou die ware feite uitvind agter die stories oor die besnydenis en semi-kastrasie by Khoi-mans, die unieke skaamlippe (die sogenaamde ‘Hottentot-voorskoot’) van die vroue, die gebruike in verband met tweelinge, die lewenseinde van ou mense en begrafnisse. Aangesien sy joernale uiters presiese waarnemings bevat van die (Gonaqua-) Khoi en die Xhosa, moes Swellengrebel geweet het van die diskussie van die bekende anatoom van Groningen, Petrus Camper, en andere, oor die Groot Lewensketting, en van meningsverskille oor die oorsprong van die rasse. Hy het ook geweet dat verskeie Kapenaars, onder andere sy neef, Hendrik le Sueur, vir Camper van materiaal voorsien het vir dieretuine en ontleedtafels. Swellengrebel het die foetus van‘n miervreter na Nederland geneem, saam met baie voorbeelde van Suid-Afrikaanse flora.
Swellengrebel het sy verblyf aan die Kaap begin met ‘n guns vir sy vriende by die huis: hy het hul briewe afgelewer by die Kaapse adresse wat hulle vir hom gegee het. Hy het begin loop, ‘van agter Leeukop’ in die rigting van Houtbaai, na die ‘vlagman se huis in die nek tussen Tafelberg en Leeukop’. Hy het gepraat met ou en nuwe kennisse. Eers het hy sy Le Sueur neefs uitgevra: J.J. was kassier van die VOC, P.A. was die Kompanjie se magasynmeester en H. ‘n arts. Goewerneur Van Plettenberg (wat in Hendrik se ouerhuis gewoon het) was ‘n ou universiteitsvriend, en hy het goed bevriend geraak met die fiskaal W.C. Boers en die apteker Adriaan van Schoor. R.J. Gordon het hy nie ontmoet nie – Gordon was in Nederland en het eers op 1 Junie 1777 in die Kaap teruggekom.
Dis heel moontlik dat hy die Sweed Anders Sparrman ontmoet het, wat op 15 April 1776 in die Kaap teruggekeer het na ‘n reis van nege maande deur die binneland en kort daarna die Kaap verlaat het. Daar is egter geen getuienis van so ‘n ontmoeting nie.
Hy het wel vir Hendrik Cloete ontmoet, hereboer by Nooitgedacht en vroeër heemraad van Stellenbosch. Cloete sou Groot Constantia in 1778 koop. Hy was ‘n taamlike persoonlikheid en as gevolg van sy sukses was mense jaloers op hom. Die Fransman François le Vaillant, wat vanaf 1781-1785 aan die Kaap was, het byvoorbeeld geskryf dat Cloete beter wyn vir homself skink as vir sy gaste. Swellengrebel het Cloete verdedig: ‘Ek het self gesien dat die eienaar gereeld ander drank gedrink het as wat hy vir sy vrou, vir my en vir die ander gaste geskink het, maar daardie spesiale wyn vir homself was heeltemal anders as Bordeaux wyn; dit was ‘n suurderige wyn wat hy vir sy gesondheid gedrink het, net soos wat ons hier ‘n Moselle wyn sal drink.’
Hendrik Cloete het baie mense aan die Kaap geken, hy het geweet van verhoudings en ontwikkelinge en was dus ‘n goeie gids vir Swellengrebel om Kaapse mense en plekke te leer ken. Hulle het byvoorbeeld saam gery na Simonsberg en na die silwermyn-skagte wat 1743-1744 gegrawe is, ‘n werksaamheid waarby Goewerneur Swellengrebel nou betrokke was. Cloete het ook sy seun Pieter en sy bediende, Swanepoel, saam met Swellengrebel gestuur op sy reise.
Metgeselle op sy Reise.
Op sy reise was Swellengrebel nie net vergesel van plaaslike bediendes en gidse nie; hy het ook die geselskap waardeer van ‘n paar Europeërs. Hy was nie net oor hul geselskap dankbaar nie, maar ook omdat hy nie net aangewese was op die sorg van ou Swanepoel (sy gids) of die Hottentotte in geval van ernstige siekte nie; ‘verder het ek ook ervaar hoe onplesierig dit is om jou afleidings en waarnemings net vir jouself te hou.’ Sy metgeselle op sy uitgebreide landreis het die volgende mense ingesluit: Pieter Cloete, seun van Hendrik Cloete, toe net 21 jaar oud, die opperchirurg Solon van Haght, Johannes Swanepoel, ‘n ware “grensboer”, twee waryers, ‘n tekenaar, ‘n kok, ‘n mansbediende en agt Khoikhoi, saam met sewe perde, 24 honde en 58 osse. Toe die Visrivier oorgesteek is, is die groep versterk deur verskeie “Grensboeren” en hulle Khoi-bediendes, sodat hulle toe bestaan het uit 18 Europeërs, 21 Khoikhoi en dié wat Swellengrebel ‘Baster-Kaffers’ genoem het, 23 perde en 78 osse, drie ossewaens en twee karre.
Hy was ook vergesel van ‘n tekenaar wie se naam nêrens in die joernaal genoem word nie. Maar twee van die meer as 60 tekeninge wat Swellengrebel se reise illustreer, is geteken ‘Johannes Schumacher’. Johannes Schumacher was ‘n soldaat ‘n afdeling onder die kolonels Hendrik van Prehn en (later) R.J. Gordon. Ons weet nie of Schumacher enige kunsopleiding ontvang het nie, ook is daar nie enige van sy skilderye van voor 1776 bekend nie. Tog moes hy reeds teen 1776 as kunstenaar bekend gewees het, anders sou Swellengrebel hom nie as reisgenoot in diens geneem het nie. Schumacher is in 1786 deur François Masson beskryf as “’n kunstenaar van groot vaardigheid in die weergawe van natuur-objekte’. Hierdie lof word bevestig deur die kwaliteit van die tekeninge in die Swellengrebel-versameling wat, met inagneming van hul byskrifte en datums, byna almal deur Schumacher gemaak moes gewees het.
Reise
Swellengrebel het drie keer na die binneland gereis. Die eerste reis (18 tot 31 Julie 1776) was na die Weskus, na Saldanha- en St. Helenabaai. Die tweede reis het heelwat langer geduur (10 September tot 27 Desember 1776) en het gelei deur minder bekende en dunbevolkte dele van die kolonie, selfs oor die grens: deur Drakenstein en Graaff-Reinet na die Visrivier, oor die rivier na wat onder die koloniste bekend gestaan het as “Kafferland” en terug langs die suidkus. Die derde reis (12 tot 29 Januarie 1777) het noordwaarts gegaan, na die Heerenlogement Berge en die distrik van die Vierentwintigriviere.
In hierdie volume word Swellengrebel se joernale van sy drie reise vir die eerste keer volledig gepubliseer, in die oorspronklike Nederlands sowel as in Engelse vertaling, tesame met ‘n inleiding en annotasies. Hulle verskaf ‘n beeld van die Kaapkolonie wat dikwels verskil van die joernale van ander reisigers uit dieselfde periode. Swellengrebel het selfs baie kritiese kommentaar gelewer op Le Vaillant se Voyages … dans l’intérieur de l’Afrique en het ‘n belangrike adviserende rol gespeel in die jare van die Kaapse Patriotte Beweging tydens die laaste dekades van die VOC administrasie van die Kaap. (Swellengrebel se kritiek, vermeld op bladsye vi en viii van die Swellengrebel volume, sal later op die HiPSA webwerf gelaai word)
Terug by die huis
Op 15 Februarie 1777 het die Politieke Raad verlof toegestaan dat Hendrik Swellengrebel, sy huisbediende en drie kiste bagasie aan boord kan gaan van die VOC agterdekskip Delfshaven. Die Delfshaven het eers op 7 Maart vertrek en het Texel op 19 Junie 1777 bereik. Daarna het Swellengrebel weer die lewe van ‘n landheer gelei, maar een wat in gereelde kontak gebly het met die mense en die gebeure van sy geboorteland. Vir besonderhede oor hierdie kontak, sien twee vroeëre VRV volumes geredigeer deur prof Schutte, Briefwisseling van Hendrik Swellengrebel Jr oor Kaapse Sake 1779-1792 (1982) en Hendrik Cloete, Groot Constantia en die VOC, 1778-1799 (2003).