Jan van Riebeeck is gebore op 21 April 1619. Hy was afkomstig van ‘n vername ou familie uit die buurt van Culemborg, waar die drie provinsies Suid-Holland, Utrecht en Gelderland bymekaar kom.
Sy vader, Anthony, het langs die weg van ‘n chirurgynskap in betaalde diens van die Oos-Indiese Kompanjie (Kompanjie) gekom, sonder om op die onderste sport as soldaat of matroos sy loopbaan te begin. Dit is waarskynlik dat Jan ook geglo het dit die aangewese weg is om sy eie loopbaan te begin en het na sy skoolopleiding hom bekwaam as ‘n chirurgyn. Nadat hy sy eksamen afgelê het en tot die chirurgynsgilde toegelaat is het hy ‘n pos as onderchirurgyn by die Kompanjie bekom, en vertrek in 1639, twee dae voor sy 20ste verjaardag, op sy eerste lang reis na die Ooste. Aanvanklik doen hy diens in Batavia as onderchirurgyn maar kort na sy aankoms gaan hy oor in die administratiewe diens van die Kompanjie waar hy vir hom ‘n beter toekoms sien.
In 1642 word hy bevorder tot ‘onderkoopman’ en neem deel aan verskeie handelsekspedisies en word later bevorder tot hoof van die handelspos, Tonkin in Viëtnam. Hy word in 1648 teruggeroep nadat dit aan die lig kom dat hy homself aan privaathandel skuldig gemaak het. In Holland aangekom moes hy uit die Kompanjie se diens bedank.
.
Oost – Indisch Huys, Amsterdam
Van Riebeeck wou egter terug gaan na Oos-Indië en in 1651 kry hy die kans toe die VOC iemand gesoek het om ’n verversingstasie in te rig by die Kaap van Goeie Hoop. In Desember van daardie jaar vertrek hy met sy vlagskip, die Drommedaris, en nog twee ander skepe, die Reiger en die Goede Hoop, uit Amsterdam na die suidpunt van Afrika. Hy het tien jaar daar gebly waarna hy Batavia toe gestuur is waar hy later bevorder is na die pos as Sekretaris van die Raad van Oos-Indië. Hy is in 1677 in Batavia oorlede
Roete van Texel (Amsterdam) na die Kaap
Gedurende sy tyd in die Kaap het Van Riebeeck en sy skrywers dag tot dag hulle werksaamhede en al die wel en wee wat hulle beleef het in die Daghregister neergepen. Uit die bladsye van die uitvoerige en openhartige Daghregister leer ons ook Van Riebeeck se karakter ken.
Hierdie volume bevat die Inleiding, die Daghregister inskrywings vanaf 14 Desember 1651 tot 30 Desember 1655 asook ‘n beskrywing van die roete na die Kaap.