F.S. Malan – ‘n Oud Joernalis Kyk Terug – A Former Jounalist Looks Back
Francois Stephanus Malan was redakteur van Ons Land, leier van die Afrikanerbond, twee maal waarnemende eerste minister van Suid-Afrika, minister van onderwys, myne en nywerheid, asook verskeie ander portefeuljes in die vroeë Unie-regering. Hy is beskryf as die laaste Kaapse liberaal — die man wat die langste in die parlement geveg het om die Kaap se nie-rassige stemreg te behou en dit na die ander provinsies uit te brei. Hierdie bundel, F.S. Malan: ’n Voormalige joernalis kyk terug, bied ’n toeganklike en persoonlike weergawe van sy opvoeding en sy loopbaan as joernalis en politikus. Dit dek die tydperk vanaf die 1880’s tot die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Dit was ’n tyd waarin ’n duidelike Afrikaner-identiteit in die Kaapkolonie begin vorm aanneem het, veral onder die invloed van die Jameson-inval en die Suid-Afrikaanse Oorlog. Beide hierdie gebeure het ’n groot invloed gehad op sy houding teenoor Britse bewind en kulturele oorheersing aan die Kaap, veral toe hy tydens die oorlog tronkstraf moes uitdien omdat hy ’n Britse generaal belaster het.









